Bloemskou leef voort in unieke nuwe vorm

Bloemskou leef voort in unieke nuwe vorm

Die uiters gewilde Bloemskou, wat vanjaar van 24 April tot 2 Mei gehou sou word, maar weens die nasionale inperking gekanselleer is, gaan nou aanlyn sy staal toon.

Die bestuur van die Bloemskou het ‘n unieke aanlyn-inisiatief begin om uitstallers die geleentheid te bied om in die tydperk wat die skou sou plaasvind steeds hul produkte en dienste aanlyn te bemark. Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, sê die inisiatief is nie ‘n manier om geld te maak nie, maar om hoop te probeer vestig.

“Almal beleef tans die effek van die Covid-19 inperking, wat daartoe gelei het dat alle samekomste, feeste en skoue gekanselleer is. Ons het soveel empatie met uitstallers vir die ongelooflike finansiële effek wat hulle tans ervaar aangesien meeste van hulle hul inkomste op dié geleenthede verdien.

“Die kansellasie het nie net ‘n groot negatiewe effek op Bloemskou gehad nie, maar op meeste besighede. As Bloemskou wil ons probeer om die uitstallers op ‘n manier te ondersteun. Ons gee om vir ons Bloemskou-familie en om ons ondersteuning te wys, gaan ons aan uitstallers ‘n aanlyn-webtuisteplatform bied,” sê Prinsloo.

Die inisiatief gaan egter nie net op die uitstallers fokus nie. Dit bied ook aan lojale skougangers die geleentheid om hul gunsteling-skouherinneringe aanlyn te deel.

“Ons gaan ook oor die tydperk wat Bloemskou sou plaasvind met ons skougangerss en kliënte die gevoel en spesiale oomblikke van Bloemskou deel. Daar sal gereelde plasings op sosiale media wees met inligting en kort video’s van die daaglikse landbou- en vermaakprogramme wat sou plaasind, kunstenaars se liedjies gaan gedeel word, asook ander Bloemskou-hoogtepunte.

“Ons glo almal het in dié tyd positiwiteit en die wonderlike ervaring van ‘n skou nodig Ons wil die geleentheid deur ons sosiale media bemark sodat gereelde Bloemskou-besoekers steeds die uitstallers se besighede kan ondersteun en besoekers steeds ‘n deel van die opwinding van die Bloemskou kan beleef,” sê Prinsloo.

Vir meer besonderhede oor hoe om deel van die inisiatief te word, kan mense ‘n e-pos stuur aan exhibitors@bloemshow.co.za of 051 448 9894 bel.

Source: https://www.bloemfonteincourant.co.za/bloemskou-leef-voort-in-unieke-nuwe-vorm/

Copyright © Bloem Skou | Show. All rights reserved. Website development by Digital Platforms | Privacy Policy