Sowat 5 500 diere by Bloemskou te sien
Bloemskou in Bloemfontein is ’n belangrike toonvenster vir die landbou in die sentrale streek van Suid-Afrika met van die gesogste vee- en perdekampioenskappe wat daar plaasvind.
Bloemskou is die alles- in-een-landbou-envermaakgeleentheid wat al 141 jaar lank besoekers na die sentrale streek van Suid-Afrika lok. Bloemfontein gooi vanjaar van 25 April tot 4 Mei sy deure oop om die beste wat die landboubedryf bied, ten toon te stel.
Laas jaar het 107 464 mense tydens die tien dae wat die skou duur, deur die hekke geloop. Vanjaar verwag organiseerders soortgelyke bywoning.
“Bloemskou kombineer uitstallers, kosstalletjies en vermaakgeleenthede met talle landboukampioenskappe,” sê Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou. Inteendeel, Bloemskou is een van die min skoue in Suid-Afrika wat dit regkry om die landbou, vermaak en handel suksesvol op een perseel te huisves.
Bloemskou het op 25 Mei 1883 begin as ’n plek vir boere om hul diere en produkte ten toon te stel. Daarna het dit ’n jaarlikse instelling geword – eers op Markplein (vandag die Hoffmanplein) en later op die skouterrein in Bloemfontein waar dit vandag steeds aangebied word. Dit is ’n belangrike toonvenster van die kampioenskapskoue in die stoetveebedryf met sowat 5 500 diere en 21 landboukampioenskappe wat daar plaasvind. Dit sluit in die grootste opelug-Saalperdskou ter wêreld en die wêreldskou vir Dorpers en wit Dorpers. Die ander perdekampioenskappe wat by die skou plaasvind, is dié vir Miniatuurperde, SA Arabierperde en ruiter-pensteek.
Vir beesboere is die Absavleis en -dubbeldoelbees-interraskompetisie, asook Vleis-sentraal en SA Stamboek se Elite-bulgroeitoetsklas jaarliks hoogtepunte op die skou. Benewens dié kompetisies word 11 beeskampioenskappe gehou, waarvan ses op nasionale vlak is. Dit sluit die Santa Gertrudis in wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar in Suid-Afrika vier.
Die Bloemskou-suiwelprodukkompetisie is die enigste in die land wat op ’n skou aangebied word en die naasgrootste in Suid-Afrika.
Die skou is ook ’n groot platform vir kleinvee. Deel van die kleinvee-aanbieding is die BKB Merino Classic-, Ile de France-, Landskaap- en Suffolk-kam kampioenskap.
Die Ile de France- nasionale veiling en Dorper- wêreldskou vind ook plaas. OVK se wolbaaldra-kompetisie, die nasionale skaapskeerkampioenskap en die skeer-spin-brei-demonstrasie sorg elke jaar vir groot vermaak.
Nog trekpleisters is die meer as 350 uitstallers, die pretpark, byna 50 kosstalletjies en die grootste kreatiewe handwerk-en-kunsafdeling in die land, asook musiekvertonings deur topkunstenaars, soos Brendan Peyper, Early B, Barto en Appel.
Die skou is Maandag tot Donderdag van 08:00 tot 22:00 oop.
Op Vrydag en Saterdag sluit die hekke om 23:00 en op Sondag om 19:00.
Die uitstalsale open om 10:00 en sluit om 20:00, behalwe Sondag om 17:00.
Lees meer op landbou.com: https://www.landbou.com/landbou/produkte-en-dienste/sowat-5-500-diere
Lees meer of Facebook: https://www.facebook.com/Landbouweekblad/posts